My NC750 trip van Potchefstroom tot in Kaapstad
Oct 1, 2015 14:11:08 GMT 2
goingslowly and royw like this
Post by Henrico on Oct 1, 2015 14:11:08 GMT 2
Ek het hierdie trip gedoen in September 2015. Ek moes vir werk Kaapstad toe gaan en het besluit om met my NC 750 te ry eerder as om te vlieg. Ek het die Vrydag weggetrek uit Potch uit in die rigting van Kimberley. Ek het al met die N12 gery tot by Britstown (baie mooi dorp) en daar afgedraai in die rigting van Clanwilliam (see se kant toe). Ek het die eerste dag gery tot in Vosburg in die Noordkaap waar ek in die hotel (Hunter's Inn) oorgebly het. Vriendelike mense, 'n lekker kroeg en gemaklike kamers - prys per aand was in die omgewing van R350 (aandete en ontbyt ingesluit). Die Saterdag het ek ongeveer 09h30 weer vertrek. Die mooiste gedeelte van hierdie dag se rit was die blomme langs die pad en veral die omgewing van Nieuwoudtsville. 'n Moet dink ek vir enige persoon (veral motorfietsryers) is om die Van Rhynspas net buite Nieuwoudtsville te ry - ongelooflike uitsig sover jy kan sien. Die Saterdag het ek gery tot op Klawer waar ek die aand in die Klawer Hotel oorgeslaap het - Fantastiese fasiliteite, lekker kos en as jy 'n Bloubulondersteuner is, is hierdie Hotel vir jou. Die kroeg en Restaurant het alles in wat te make het met die Bloubulle - van kepse, 'n blou kruiwa, foto's, handtekeninge, horlosies en nog meer - dit is natuurlik die eienaar Moorrees Smith se versameling oor jare - mens voel sommer tuis by hierdie mense in die Noordkaap. Dag 3, die Sondag het ek die laaste skof aangepak van Klawer af tot in Kaapstad - ongelooflike omgewing verby die Sederberg en Citrusdal - ek het net anderkant Piketberg van die N7 afgedraai in die rigting van die Weskus. Die eerste dorp daarna was Velddrif, toe Vredenburg en toe die ongelooflike Saldanha. Hier is 'n moet-middagete beslis by Slipway restaurant in die hawe. Jy sit omtrent met jou voete in die see terwyl jy mossels of calamari eet. In Langebaan het ek by Sparrows (winkel) gestop vir iets vir die familie en Pearlies (eetplek) om die draai het vir iets te drinke gesorg. Van hieraf was dit reguit Kaapstad toe. Met my terugkeer 'n paar dae later het ek dieselfde pad terug gery om weer al die lekker in te asem - Ongelooflike ervaring.